maandag 9 maart 2009

~

Ingrid Jonker

* 19 september 1933 ~ bij Kimberley / Noord-Kaap
† 19 juli 1965 ~ Kaapstad / Suid-Afrika

Die kind
wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu ~ skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu ~ skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met 'n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig
by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise
en in die harte van moeders

die kind wat net wou speel
in die son by Nyanga als orals
die kind wat 'n man geword het
trek deur die ganse Afrika
die kind wat 'n reus geword het
reis deur die hele wêreld

Sonder 'n pas

~*~

Geen opmerkingen:

Een reactie posten